INLEIDING

Hoërskool Outeniqua is in George in die hart van die pragtige Tuinroete geleë. Sy besondere geografiese ligging, heerlike klimaat, lieflike strande soos Wildernis, Victoriabaai, Heroldsbaai en Glentana, asook sy wandelpaaie deur unieke natuurskoon van berge, woude, mere en riviere maak van George ‘n ware paradys.

Die Hoërskool Outeniqua is in 1923 gestig en het in 2013 sy 90-jarige bestaan gevier. Dié roemryke skool bied ‘n gebalanseerde opvoeding aan elkeen van sy meer as 1630 leerders. Die Hoërskool Outeniqua wil elke leerder as totale mens laat ontwikkel en die nodige kennis en praktiese ondervinding gee om die beroepslewe met vertroue aan te pak. Ons wil ook hê dat leerders die lewe in oorvloed moet geniet.

Die skool bied ‘n wye vakkeuse, ‘n verskeidenheid kultuur- en sportaktiwiteite en hope geleenthede vir mensontwikkeling aan. HoërskoolOuteniqua is bekend vir sy uitstekende akademiese onderrig, puik akademiese onderrigfasiliteite, goed opgeleide, hoogs gemotiveerde en entoesiastiese personeel, tradisieryke geskiedenis, verrykende en karaktervormende kultuurbeoefening, vele sportgeleenthede, skitterende sport- en kultuuruitslae en hope geleenthede vir gesonde pret.

WORDINGSGESKIEDENIS

Die eerste vorm van onderwys in George dateer terug na 1812 toe ‘n skooltjie in die goeweneurshuis gestig is en Adriaan van der Colff as eerste onderwyser aangestel is. Hierna het verskeie skooltjies in en om George ontstaan. In die vroeë 1900’s is daar twee skole gestig wat onderwys na ‘n hoer vlak in George geneem het, te wete die Fisrt Class Public School for Girls (1905) met mej. Christina van Niekerk as skoolhoof en die First Class Boys’ School(1900) met mnr. C.L. Hofmeyer as skoolhoof. In 1907 het die Seunskool (met ‘n Hollandse agtergrond) en die Anglikaanse skool (die Engelstalige St. Mark’s College) saamgesmelt. Canon Barron Moore is aangestel as hoof van die verenigde skool. Die politieke klimaat was nie bevorderlik vir so ‘n samesmelting nie en die leerdertal daal tot 63. In 1914 word Canon Moore opgevolg deur mnr. D. Malan en onder sy leiding het die skool dinamies gegroei.

Op 12 Februarie 1914 is die hoeksteen vir die nuwe Seunskool gelê. Dit sou later bekend staan as die Manie le Rouxskool. In 1918 het die skool gegroei tot ‘n leerdertal van 263 en verkry dit hoërskoolstatus. Gedurende hierdie tydperk het Die Superintendent Generaal van Onderwys , dr. Muir, en ds. J.A. Beyers, predikant van die Moedergemeente in George, hulle baie sterk beywer vir die daarstelling van ‘n “Sentrale Skool” vir George. Op 20 Februarie 1920 is dit deur die skoolraad goedgekeur en in 1922 is “The Central High School” gestig. Die seuns en meisies was nou in dieselfde skool en dit het meegebring dat die skoolgeboue te klein was vir die 225 leerders en verskeie lokale in die dorp is as klaslokale gebruik.

Ds. J.S. Beyers, wat die “Vader van die nuwe hoërskool” genoem kan word, het hom vir twee verdere sake bemoei. Afrikaans moes as taal toegelaat word en ‘n geskikte terrein moes vir die nuwe “Sentrale Skool” gevind word. Die Stadsraad het ‘n voorstel vir die nuwe terrein goedgekeur en op 15 September 1922 is die hoeksteen van die Hoërskool Outeniqua deur die Administrateur, sir Frederic de Waal, gelê op die hoek van Courtenay- en Mitchellstraat.

Leagues
Premier Interschools
Seasons
2018, 2021, 2022, 2023
Home